
=====================================================================
Grootword met Boerneef en boeremusiek (AV 5:1)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Grootword met Boerneef en boeremusiek

Dis vanjaar die honderdste herdenking van Boerneef se geboorte. George Weideman   uit 'n jonger geslag, gee eer aan die kontreidigter se 
invloed.

HULLE s ou bome verplant swaar. Dit geld soms vir jonges ook, en dan veral di wie se wortels aan skrapse water gewoond is.

Ek was op dertien-veertien 'n banneling in die Vrystaat toe ek in Boerneef -- onwennige stedeling -- 'n sielsgenoot ontdek het.

Ons verhuising aan die einde van 1960 na Kilmarnock, 'n plaas tussen Ladybrand en Clocolan, het die onrus en die verlange vir altyd in my 
gevestig en verbeelding my toevlug gemaak. Weg was die uitgestrekte vlaktes met doringbome en miershope en die ysterklipkoppies van die 
Kimberleyse kontrei, waar ons die vorige drie jaar vertoef het. Anderkant die aardbol was my geliefde Noordweste met sy ontsagwekkende 
Grootrivier, kokerbome en Ma se mense met hul brakwatertande.

Hier was die sandsteenkranse van die Maluti's en fonteine wat oral uitborrel, tot rg onder die muwwe en verkrummelende ou plaashuis waar 
ons, tot argwaan van sowat vierhonderd rotte, net soveel vlermuise en bykans tweehonderd slange ons intrek geneem het. Die gras was 
verstikkend groen, die fontein onder die huis was swart van die ouderdom, die water was vrank van die varsheid, vreemde paddastoele het 
oral opgeslaan en ek het soggens tandeknersend saam met Pa skool toe gery.

Toe ons 'n kwartaal of wat later die wit vlag hys, kon die rotte kwalik hul vreugde wegsteek. Ons het nader dorp toe getrek. Maar ook op 
hierdie plaas -- Blair Atholl (waar sou al die Skotse name vandaan kom?) -- het ek in my dop gekruip. Ook hier was alles tot barstens toe 
versadig van oordaad; die nabyheid van ander plase 'n hindernis vir iemand wat daaraan gewoond was om tot by 'n klipbaken uit te klim en 
net die uitgestrektheid -- Boerneef se "pranaslandskappe" -- waar te neem.

Gelukkig saai die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika toe hier teen vyfuur smiddae 'n jeugprogram uit met Pieter Grobbelaar   as 
aanbieder. Skrywers van die toekoms, noem hy dit, en hy deel pryse uit vir limerieke, eie skryfpogings en verbeeldingryke romantitels. Toe 
ek later vir Danie Botha van Tafelberg   ontmoet, kom ons agter dat ons albei ywerige deelnemers was.

Van verbeelding kon jy my in di tyd niks leer nie, want verbeelding word uit eensaamheid en verlange gebore. Ek het dus verbeeldingryke 
titels ingestuur en ywerig probeer om limerieke te voltooi. Ook eie verse -- oor my geliefde Noordweste -- het hul weg na Pieter se program 
gevind. 'n Boekprys of twee laat my toe kennis maak met Boerneef se gedigte.

In hierdie stadium het ek reeds rympies na die model van bekende Afrikaanse liedjies geskryf. 'n Jong digter het so 'n soort matrys nodig 
voordat hy sy eerste skreeu gee. Die oudste voorbeeld -- my heel eerste "gedig", gelukkig deur my sus Fesia bewaar -- het so vorm gekry op 
'n Underwood wat Pa vir my vir 'n raps meer as twee ghienies by 'n pandjieswinkel in Kimberley se skeefste straat, Jones Straat, gekoop 
het:

Solank as die lepel in die pappot staan,
Blommetjie gedenk aan my!
Boesmanlandse kerriekos, roosterkoek en bitterbos,
Daar is net die ding vir my!
Solank as die lepel in die pappot staan,
Blommetjie gedenk aan my!
Van Tontelboskolk tot by Kakamas,
van die Sandveld en van Boesmangras,
daarvan droom ek snags!
Solank as die lepel in die pappot staan,
Blommetjie gedenk aan my!
Daar onder in die vlei waar die kleurlingvolkies dans
en bo by die kop waar die hane smoors' kraai,
daar is net die ding vir my!
Boesmanlandse kerriekos, roosterkoek en bitterbos,
daar is net die land vir my!
daar is net die land vir my!
 Nou ja, sonder twyfel halfpad plagiaat. In Hondegaloppie het die vers toe tog effe anders daar uitgesien:

Solank as die lepel in die pappot staan
-- Blommetjie gedenk aan my!
Solank as die vuurtjie my verlange verstaan
-- Blommetjie gedenk aan my!
en so voort.


Maar toe ek "Dirk Ligter I" in Boerneef se Namakwalandse Rympies uit   Teen die helling raakloop, kom ek agter: hier is iemand wat by 
dieselfde puts water skep:
laat sing die ding
Blommetjie gedink aan my
Blommetjie soet van geur
Blommetjie van kust en keur
Blommetjie gedink aan my.


Eers toe ek 'n paar jaar later leer dat digters hul in die vorige dekade begin keer het tot die volkse -- dat hulle uit die volksliedjie en 
idioom van die gewone mense begin put het -- eers t het ek verstaan hoeveel ek en Boerneef gemeen het.

Intussen -- by tannie Piet se heerlike bibliotekie op Springbok, waar ek my laaste drie horskooljare deurgebring het -- het ek al kennis 
gemaak met die werk (en die brer sosiale bewussyn) van Vyftigers/Sestigers soos Adam Small, Ingrid Jonker en R.K. Belcher. Maar dit was 
verl Boerneef se gedigte -- tot in daardie stadium was Mallemole (1962) die jongste -- wat my skryflus gestimuleer het. Reeds op Clocolan 
het ek my eie skoolkoerant (Die Moperi) begin; op Springbok het Die Namakwa gevolg; hier het ek soms van my eie skryfpogings gepubliseer. 
Eers toe my letterkunde-onderwyser (watter weelde was dit nie om die vak Afrikaanse en Nederlandse letterkunde ns Afrikaans te kon h 
nie!) my Standpunte- en Kriterium-artikels oor Boerneef in die hand gestop het, kon ek "van buite af" kyk na my veel ouer, geslypter 
geesgenoot.

In di einste mnr. Ivan du Toit se klasse het ek ook kennis gemaak met Guido Gezelle en Paul van Ostaijen. Hierdie digters sou eweneens 'n 
groot invloed op my uitoefen -- Gezelle (soos Leipoldt) met sy verwondering oor die eenvoudige natuurdinge; Van Ostaijen (soos Boerneef) 
met sy boerse humor en gedurfde taalspel. Die gedig "Simfonie vir Boereorkes met viool, saag, okarina, ens." uit 'n Staning onder sterre 
word dan ook "met verontskuldiging" aan o.a. Van Ostaijen en Boerneef aangebied:

jy sal s ek lieg
is praatjies vir die vaak
maar di kan ek jou s
dis hoeka volksvermaak
op grootvloer is gedans
van voorjaar tot najaar
en dwarsdeur die jaar
jy sal s ek dwaal
dis net 'n ou verhaal
maar di sweer ek jou voor
dis hier waar saar van schoor
en haar bulgaar
haar husaar
haar magjaar
haar tartaar
wie weet watter tollenaar
gedans-dans-dans het
van voorjaar tot najaar
en dwarsdeur die jaar ...


Hierdie gedig, soos 'n hele paar voorgangers uit Hondegaloppie (1966),   As die son kliplangs spring (1969),   Klein manifes van 'n 
reisiger (1970),   Hoera hoera die ysman (1977)   en Uit hierdie grys verblyf (1987)   is geskryf op wysies wat in my kop bly maal en saam 
met die woorde gegroei het (of andersom). In wese is hulle dus "lirieke" en "partiture" van die gefrustreerde komponis (van outydse 
boeremusiek!) in my. Miskien nie so vreemd nie, as ek daaraan dink dat Pa 'n groot boereorkes gehad het toe hy onderwyser aan die destydse 
Hor Seunskool op Cradock was; dat sowel hy as Ma viool gespeel het, en my broer Hennie tjello; dat my suster Marietjie vaardig was met die 
trekklavier en dat sus Fesia musiekonderwyseres geword het. En dat my ouma Baai die riel kon dans en die askoek kon slaan soos weinig Nama-
meisies op die ou Suidwesplaas.

Ek weet nie of Boerneef ook soms "wysies" in sy kop gevolg het nie; ek weet wel van die invloed van danswysies en volksrympies op N.P. van 
Wyk Louw (soos ek later met instemming in Rondom eie werk sou lees).

Boerneef se ligvoetse omgang met sy mense se Afrikaans het my die vreugde van taal-ontdekking laat smaak. Hoewel sy Ceres-Karoo se 
Afrikaans verskil van die Afrikaans wat jy in die Sandveld of in die noorde van Namakwaland of in die Boesmanland hoor, is daar n gemene 
deler: die vermo om beeldend met taal om te gaan. Daarby kom natuurlik ooreenstemmende plant- en dierename, die groot droogtes en 
plaasgewoontes. Ek het dit nog nooit regtig as invloede gesien nie -- bloot dat ek en Boerneef en nog 'n swetterjoel ander skrywers, soos 
o.a. Thomas Deacon en Donald Riekert, 'n bre geografiese     en linguistiese oerbron deel.

Wat my wl aanvanklik benvloed het, was Boerneef se manier van skryf. Die losserige gesprekstrant en skrynerige humor van

Wanneer het dit laas gereent
weet nie
te lank laas
hoe hou jy dit hier nog uit
geen mens of dier hou dit hier meer uit
hier boer mens met geraamtes vinnig agteruit


(Uit Ghaap en kambro)

vind by my sekerlik weerklank in verse soos

Janbrandsevlei is tsoeroe-tsoeroe-droog
die klei skilfer op daars plooie om jou oog
die mowwe dam saans pietlutterig en blr
jou stem beginne knak die swaarweer l vr
En saans vleg jy die ure om
maak voorslag vir die dae wat kom
Die jare begin stowwerig op jou tong te l.
 ("Soveelste oorslaanjaar", uit As die son kliplangs spring)

Skrywers put dikwels uit hul swaarkry. Ek kan nie s dat ons ooit swaar gekry het nie; maklik had ons dit ook nie. Die Noordweste is egter 
'n streek wat harde eise aan sy kinders stel. Maar het ons nie destyds 'n jaar lank in die sagte Oos-Vrystaat gaan bly nie, het ek dalk 
nooit begin skryf nie.

George Weideman   se digbundel 'n Staning onder sterre (Tafelberg) en die roman Die onderskepper of Die dorp wat op 'n possel pas   
(Queillerie) het vanjaar verskyn.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5126.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Januarie 1998 /// Geen middelmatigheid vir ons jeug (AV 5:1) /// 
Afrikaans en die Universiteit van Natal (AV 5:1) /// Die Stigting nou en vorentoe (AV 5:1) /// Medewerker van die Boekebeurs in Vlaandere 
(AV 5:1) /// Hartlik dank vir die terugvoering (AV 5:1) /// Di Afrikaans staan nie in woordeboeke nie (AV 5:1) /// Hou op kla en doen iets 
positiefs! (AV 5:1) /// M-Net se verhouding tot Afrikaans (AV 5:1) /// Afrikaans in 'n demokratiserende Suid-Afrika (AV 5:1) /// Fase Twee 
van di inisiatief l nog voor (AV 5:1) /// Taalkreatief? vir seker Afrikaans kreatief (AV 5:1) /// (Her)ontdek Nederlands via Afrika (AV 
5:1) /// Dit gaan goed met Afrikaans in die Oos-Kaap (AV 5:1) /// Vroeg al gestry vir Afrikaans (AV 5:1) /// Beterskap vir moe meisie (AV 
5:1) /// Nederland leer kinders die waarde van lees (AV 5:1) /// In die speurroman tel die Jakob sonder die ware (AV 5:1) /// Geen 
anglisisme nie (AV 5:1) /// Afrikaans word net in SA gesing -- s wie? (AV 5:1) /// Die antwoord is: aanpasbaarheid /// Ons Angel-Saksiese 
pleknaamgewing (AV 5:1) /// Privaat skole verseker moedertaalonderwys (AV 5:1) /// Andertaliges daag mekaar in Afrikaans uit (AV 5:1) /// 
Niks doen dit soos Afrikaans nie (AV 5:1) /// Radio sonder grense vandag (AV 5:1) /// Grootword met Boerneef en boeremusiek (AV 5:1) /// 'n 
Glimlag vir Anna (AV 5:1) ///

